Fresh forward…
HoorSê
Wil jy glo ! Ek lees hierdie week ‘n artikel raak waarin beweer word dat Suid-Afrika as mees gesogde toeristebestemming aangewys is in ‘n onlangste internasionale reisigersopname. Whatthe… wat weet die deelnemers wat ons nie weet nie…of wat weet hulle NIE ?! Eish ek weet darem nie of ek hierdie land sal kies as my #1-bestemming nie.
Díe besigheid trek my in twee. Die skepties in my herinner my, hoe gereeld ek as toergids, met ooglopende lof die land teenoor toeriste besing het, terwyl die wete aan ons misdaad, barbaarse hebsug, nyd en ‘dit-gaan-net-oor-myself-houding’ omtrent my keel toedruk. Wel, miskien het díe kortasemgeid darem die lofsange effe verdoof.
BUT on the other hand, Darren, wil ons seker, desperaat, elke Jan-Rap-en-sy-maat wat ‘n aalmoesie kan uitdeel van die buiteland af verwelkom, teen lugruim-‘oopstel’tyd; toerisme suig allermins, tans, aan die kurkdroë speen en die prognose is beroerd. Die moét-sien- en ander fantastiese bestemmings in die land hou hulle asems op, werkers in díe bedryf – sommige van hulle liefdesarbeiders (labour of love) – oorweeg Buffelsgras vir ‘n dieët, en museums en monumente word vergete kasarms van eensamheid.
Yay ! Ons het nou wel ‘Overtourism’ – die moderne konsep van ‘die samedromming van meer besoekers as wat die bestemming kan hanteer, in terme van impak op die inwoners in die onmiddellike omgewing’ – van ‘n aantal besienswaardighede betyds vermy, ironies, danksy die virus, maar wie’s óns om te oordeel, díe wat mag oorleef en díe wat moet sink? Staan saam en druk deur, stoere toerismevolk !